Adolf Eichmann | |
---|---|
Eichmann in 1942 | |
Geboortenaam | Otto Adolf Eichmann |
Bynaam(e) |
|
Geboortedatum | 19 Maart 1906 |
Geboorteplek | Solingen, Ryn Provinsie, Koninkryk Pruise, Duitse Keiserryk |
Sterfdatum | 1 Junie 1962 (op 56) |
Sterfplek | Ramla, Israel |
Lojaliteit | Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty |
Rang | SS-Obersturmbannführer (luitenant-kolonel) |
Toekennings |
|
Otto Adolf Eichmann (19 Maart 1906 – 1 Junie 1962) was 'n Duits-Oostenrykse SS-Obersturmbannführer (senior leier) en een van die belangrikste organiseerders van die Holocaust. Hy is deur die SS-Obergruppenführer (senior groepleier) Reinhard Heydrich opdrag gegee om by die logistiek betrokke te raak van die massa-deportasie van Jode na uitwissingskampe in die Nazi-besette Oos-Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog te vergemaklik. Eichmann is op 11 Mei 1960 deur die Mossad in Argentinië gevange geneem en is daarna skuldig bevind aan oorlogsmisdade in 'n algemeen gepubliseerde verhoor in Jerusalem, waar hy in 1962 tereggestel is.
Na 'n onindrukwekkende skoolloopbaan het Eichmann kortliks by die mynmaatskappy van sy vader in Oostenryk gewerk, waar die gesin in 1914 verhuis het. Hy het vanaf 1927 as 'n reisende olieverkoper gewerk en in 1932 by die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty en die SS aangesluit. In 1933 keer hy terug na Duitsland, waar hy by die Sicherheitsdienst (SD, "Veiligheidsdiens") aansluit het; daar is hy aangestel as hoof van die departement verantwoordelik vir Joodse aangeleenthede – veral emigrasie, wat die Nazi's deur geweld en ekonomiese druk aangemoedig het. Na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het Eichmann en sy personeel gereël dat die Jode in ghettos in groot stede gekonsentreer sou word, met die verwagting dat hulle verder oos of oorsee vervoer sou word. Hy het ook planne opgestel vir 'n Joodse reservaat, eers by Nisko in die suidooste van Pole en later in Madagaskar, maar nie een van hierdie planne is ooit uitgevoer nie.
Die Nazi's het die inval in die Sowjetunie in Junie 1941 begin, en hul Joodse beleid het van emigrasie na uitwissing verander. Om die beplanning vir die volksmoord te koördineer was Heydrich, wat Eichmann se hoof was, die gashoof van die administratiewe leiers van die regime tydens die Wannsee-konferensie op 20 Januarie 1942. Eichmann het inligting vir hom versamel, die konferensie bygewoon en die notules voorberei. Eichmann en sy personeel het verantwoordelik geword vir die Joodse deportasie na die uitwissingskampe, waar die slagoffers vergas is. Duitsland het Hongarye in Maart 1944 binnegeval, en Eichmann het toesig gehou oor die deportasie van 'n groot deel van die Joodse bevolking. Die meeste van die slagoffers is na die Auschwitz-konsentrasiekamp gestuur, waar ongeveer 75 persent met hul aankoms vermoor is. Toe die vervoer in Julie 1944 gestaak is, is 437 000 van 725 000 Jode in Hongarye dood. Dieter Wisliceny het in Neurenberg getuig dat Eichmann vir hom gesê het hy sal "in sy graf lag, omdat die gevoel dat hy vyf miljoen mense op sy gewete het, vir hom 'n bron van buitengewone bevrediging sou wees".[1]
Ná die nederlaag van Duitsland in 1945, is Eichmann deur die Amerikaanse magte gevange geneem, maar hy het uit 'n aanhoudingskamp ontsnap en oor Duitsland heen getrek om weer gevangenskap te vermy. Hy beland in 'n klein dorpie in Nedersakse, waar hy tot in 1950 gewoon het, toe hy na Argentinië verhuis het met vals dokumente wat hy verkry het met hulp van 'n organisasie onder leiding van die Katolieke biskop Alois Hudal. Inligting wat deur die Mossad, die Israeliese intelligensie-agentskap, versamel is, het sy ligging in 1960 bevestig. 'n Span agente van Mossad en Shin Bet het Eichmann gevange geneem en hom na Israel gebring op 15 strafregtelike aanklagte, waaronder oorlogsmisdade, Misdade teen die Mensdom en misdade teen die Joodse volk. Tydens die verhoor het hy nie die Holocaust of sy rol in die organisering daarvan ontken nie, maar beweer dat hy bloot opdragte in 'n totalitêre Führerprinzip-stelsel gevolg het. Hy is op al die aanklagte skuldig bevind en gehang op 1 Junie 1962. Die verhoor is wyd in die media gevolg en was later die onderwerp van verskeie boeke, waaronder Hannah Arendt se Eichmann in Jerusalem, waarin Arendt die frase "die banaliteit van die kwaad" bedink het om Eichmann te beskryf.